Skip to main content

Latest News

Published on:
5 November 2026

Plaaswerkers sukkel om hul gesinne op die minimum loon te voed

Deur Megan Stuurman

​Vir plaaswerkers in en om Robertson beteken ‘n maandelikse loon nie noodwendig dat daar genoeg kos op die tafel is nie. Soos wat die stygende koste van basiese voedsel en ander noodsaaklikhede toenemende druk op huishoudelike begrotings plaas, sukkel baie werkers om met hul beperkte inkomste in hul gesinne se behoeftes te voorsien.

​Plaaswerkers in Suid-Afrika wat 45 uur per week werk, verdien ‘n minimum loon van R5 894,40. ’n Verslag wat onlangs deur die Internasionale Paneel van Kenners oor Volhoubare Voedselstelsels (IPES-Food) bekendgestel is, toon dat voedselstelsels meer werkers uitbuit as enige ander sektor. Dit maak landbou- en voedselwerkers die mees geëxploiteerde werksmag op aarde.

​Die verslag beklemtoon dat byna 1,4 miljard mense — twee uit elke vyf werkers wêreldwyd — in die agri-voedselsektor werk. Nogtans staar ontsettende getalle van hulle ernstige stelselmatige mishandeling, armoede en gevaarlike werksomstandighede in die gesig.

​Jason Matteus, ‘n pa van drie, woon en werk al vir 6 jaar op ‘n plaas. Hy bestee die grootste deel van sy salaris aan kos en vervoer vir sy dogter, wat skoolgaan op ‘n dorp naby hulle.

​“Ek is die broodwinner en my vrou werk nie,” sê hy.

​Matteus sê die gesin se kos raak reeds teen die middel van die maand op, en hy moet lenings uitneem om sy salaris aan te vul. Hy koop groot maat kos, maar dit hou steeds nie die hele maand nie.

​“Ons koop ‘n kospak wat tussen R400 en R700 kos. Die kos wat ons koop sluit meel, rys, kookolie, koffie, suiker, sout, blikkieskos en waspoeier in,” sê hy.

​’n Bestuurder van een van die kleinhandelswinkels het gesê dat die groot winkelgroepe net oor wins behep is en nie omgee of mense honger ly nie.

​“Ons het aan die einde van verlede jaar nogal baie voorraad oorgehad omdat nie baie mense kos in groot maat gekoop het nie. Ons moes dit na die volgende jaar oorplaas. Die meeste mense verkies om by spazawinkels te koop omdat dit goedkoper is en hulle ‘n pak met alles wat hulle nodig het vir een prys kan kry,” het hy gesê.