Skip to main content

Latest News

Published on:
23 July 2026

Plaaswerkers verwerp wysigings aan PIE-wet

Foto deur Reclaim The City (RTC)


Plaaswerkers, kleinskaalse boere en inwoners van informele nedersettings in die Bolandstreek van die Wes-Kaap het saam met stedelike grondorganisasies en aktiviste aangesluit om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond teen te staan.
Dit het na vore gekom tydens ‘n openbare uitpraatsessie in Robertson wat deur die Trust vir Gemeenskapsuitreik en Onderwys (TCOE) gereël is.

In Junie het die Departement van Menslike Nedersettings verhore regoor die land gehou, wat inwoners die geleentheid gebied het om kommentaar op die wetsontwerp te lewer. Onlangs het Abahlali baseMjondolo teen die wetsontwerp betoog en die regering versoek om eerder die behuisingskrisis aan te spreek.
Boyce Tom van TCOE het gesê dat die wetsontwerpe deel vorm van “die nuwe vorme van onteiening wat deur die regering in die belang van kapitaal gefasiliteer word”. Tom het gesê dat die wetsontwerp bloot nog ’n manier is waarop die wet gebruik word om die regering se greep op die grondloses te verstewig. “Die huidige wetsontwerp voorsien besetters van geskikte alternatiewe akkommodasie, maar die voorgestelde wetsontwerp wil wegdoen met die geskiktheidsvereiste en stel voor dat enige akkommodasie geskik is,” het hy gesê.

Aktiviste-prokureur Nathi Mjenxane van Henk Smith & Associates, het gesê dat die wysiging verder gaan as om slegs dié te kriminaliseer wat organiseer om grond te beset vir finansiële gewin, maar ook dié wat grond vir skuilingsdoeleindes beset. “Dit sou ook die byeenbring van mense met die doel om grond te beset, kriminaliseer. Die voorgestelde wetsontwerp bepaal ook dat die besetters die toestemming van die grondeienaar sal moet verkry. Ons moet nee sê,” het hy gesê.



Matheko Mohobo van Spookytown, ‘n informele nedersetting in Rawsonville, het gesê dat die gebied waaruit sy kom, ontstaan het as gevolg van uitsettings. .“Toe bejaarde vroulike plaaswerkers nie meer vir die boere van nut was nie, is hulle in die gebied afgelaai, en dit is hoe die informele nedersetting tot stand gekom het,” het sy gesê.
“Plaaswerkers word steeds uitgesit en mense word steeds in die gebied afgelaai. Die voorgestelde wetsontwerp is daarop gemik om die beperkte regte wat ons ingevolge die huidige wetsontwerp het, weg te neem. Dit ontneem ons van al die regte wat ons het en wil ons met niks laat nie,” het sy gesê.

’n Kleinboer en lid van sowel die Mawubuye Land Rights Movement as die Rural Women’s Assembly, Elsie Sauls, het gesê dat die meerderheid inwoners van die Nkandla-informele nedersetting plaaswerkers was wat uit die Ashton-gebied uitgesit is. “Om hulle hutte op te rig, moet hulle die Red Ants-sekuriteitswagte omkoop. As jy nie betaal nie, word jy ook daar uitgesit,” het sy gesê.

Sauls het gesê sy gebruik die grond naby die informele nedersetting om gewasse te verbou, net soos haar oorlede pa vroeër gedoen het.
Haar vader het die grond vir meer as 40 jaar beplant en gebruik, maar toe sy navraag gedoen het oor die moontlikheid om ’n huurkontrak vir die grond van die munisipaliteit te verkry, is daar vir haar gesê dat dit in private besit is en dat hulle nie die naam of kontakbesonderhede van die eienaar kan verskaf nie. “Ek gebruik die grond al meer as 25 jaar, maar daar was nog nooit ’n bord om aan te dui dat die grond privaatbesit is nie. Dit was eers toe ek ’n huurkontrak wou kry dat daar vir my gesê is dat die grond aan ’n privaat persoon behoort,” het sy gesê.

Die groepe het ‘n formele voorlegging ingedien, en die hersiene wetsontwerp sal na verwagting in Julie aan die Kabinet voorgelê word.